Danie Niehaus
- What kind of music? Theatre
- Danie Niehaus is in 2008 bekroon met ‘n SAMA-toekenning vir sy album, Fynskrif, in die afdeling Beste Afrikaanse Volwasse Kontemporêre Album. Hierdie talentvolle en veelsydige sanger, het homself bewys as uitnemende komponis en liriekskrywer, met ‘n individuele styl en klank. Hy beskik oor ‘n wêreldklas vokale vermoë, met ‘n omvang wat oor verskeie oktawe strek.
Danie begin sy musiekloopbaan meer as 25 jaar gelede en reik sy debuutalbum in 1985 uit, waarvoor hy vir ‘n Sarie-prys benoem is. Later het die album, Rondloper, gevolg en dit is met die destydse OKTV-toekenning bekroon. Nog albums het gevolg waaronder Kleure, Dagboek, Jy is Vrou en sy jongste album, Fynskrif, wat hom as een van die land se vaardigste liedjieskrywers gevestig het.
Meer as 150 van die liedjies wat Danie Niehaus oor die jare geskryf het, is al opgeneem, deur homself, maar ook deur ander bekende kunstenaars soos Karin Hougaard, Carike Keuzenkamp, Kurt Darren, Rina Hugo. Van die mooiste liedjies wat hy tot die Afrikaanse musiekskat bygevoeg het, is Niks is dan mooier (Jy is vrou), Hierdie aand, Rondloper, Vir wat?, Kleure en ‘n aantal splinternuwe komposisies van sy jongste album
Vir sy bydrae tot die Afrikaanse kultuur is hy met die Khula-toekenning bekroon en sy komposisies in die folkgenre word hoog geag. Hy het van die mooiste liedjies nóg tot die Afrikaanse musiekskat gevoeg – van Niks is dan mooier (Jy is vrou), Hierdie aand, Rondloper, Vir wat?, Kleure en ‘n aantal splinternuwe komposisies van sy jongste album, Fynskrif.
In 1993 het hy saam met Bonnie Tyler deur Suid-Afrika getoer en was ook aanbieder van die vermaaklikheidsprogramme, Skokiaan en Maak ‘n Las op SABC2. Talle Suid-Afrikaners in die buiteland woon gereeld sy konserte in Londen, Skotland en Nieu-Seeland by. In 2004 het hy die volkslied – in al drie landstale voor die Springboktoets in Australië gesing.
Danie werk met gemak in verskeie genres, van ballades tot volwasse kontemporêre pop en rock en selfs ligte klassieke musiek. Saam met Mathys Roets en Kevin Leo het hulle as die kragtige Drie van die Bestes, goudstatus met hul klassieke popaanslag bereik.
Danie se nuwe album gaan eersdaags opgeneem word en bevat musiek van die bekende Nederlandse sanger, Marco Borsato, wat Danie in Afrikaans vertaal het en waarmee hy deur die land gaan toer.
In sy vertoning maak jy nie net kennis met Danie Niehaus, die professionele, talentvolle en veelsydige musikant nie, maar ook met Danie die komediant, denker en diep sielvolle mens. Hy bring in hierdie vertoning hulde aan legendes, wat hom geïnspireer het en ook van sy musiek opgeneem het, hy vertel staaltjies van sy vele vertonings en toere deur die land, maar spesifiek, dié by Dorpstraat Teater oor die jare en hy sing die musiek wat hy al die jare by Dorpstraat gesing het en waarvoor sy aanhangers elke keer terugkom en soos altyd, is daar ook weer iets nuuts en iets vir die siel.